Stywe Lyne

Stywe Lyne

Henning van Aswegen & Johan van Zyl

“Geronkie, het jy geweet dat mense wat visvang, meer vis vang? Dit is ‘n onomstootlike feit soos ‘n koei.”

“Watter soort koei?”

“Dis nie nou ter sprake nie, Geronkie. Ons praat van visvang. Party mense noem dit hengelary.”

Mossieman en Geronkie sit karplaks op die Strand se strand op hul gemakstoele na die see en kyk. Valsbaai om presies te wees; van Gordonsbaai in die Verre Ooste tot en met Simonstad in die Nabye Weste. Tussen dié twee koddige dorpies kry jy die Strand, Somerset-Wes, Muizenberg, Kalkbaai, Vishoek en Simonstad voordat jy kop-aan-kop om Tafelberg ry.

“Wat is die verskil tussen die twee: visvang en hengel?” peins Geronkie. In daardie dae was Geronkie ‘n bobaas peinser. Hy was só goed met die peinsery dat party Vrystaters hom as ‘n diep denker beskou het. Amper in dieselfde klas as Mossieman.

Mossieman is ‘n gebore-getoë Vrystater maar hengel is nou nie juis sy sterkpunt nie. Omdat hy ‘n gebore filosoof is, stel Mossieman baie meer belang in mielieboerdery, aartappelboerdery, kersieboerdery naby Ficksburg, en die wringkrag van groot groen trekkers. En skaapappeltjies.

Mossieman krap sy mossiekuif met sy verepoot. “Visvangers is spesiale mense. Party ouens noem hulle vissermanne, of visservroue en hul kinders is visserkinders. Hulle gebruik visstokke, katrolle, aas en vislyn en hulle vang visse. Sinkers ook, sodat alles kan afsink na die bodem van die see. Hengelaars is ook buitengewone mense wat visstokke en katrolle gebruik, maar hulle vang hoofsaaklik hengels.”

“Hengels! Heng, Mossieman.”

“Het jy nog nooit van hengels gehoor nie, Geronkie?” wil Mossieman vies weet. Hy hou nie baie daarvan as sy vriende uit die Vrystaat sy kennis oor visvang en hengel in twyfel trek nie. “Dink aan trappe van vergelyking: hengel-hengelaar, visvang-visselaar.”

“Jy vang nou vis sonder ‘n visstok, Mossieman! Jy blaf vir die verkeerde boom.”

“Wat?”

“Jy skiet nou spek. Wat weet jy in elk geval van Valsbaai en die Atlantiese Oseaan af? Jy is mossie ‘n kolonialer nie.”

“Ek weet vissermanne sit aas aan hul vislyn se hoek en sinker. Dan gooi hulle die goeters dat hulle daar trek, katrol so ‘n bietjie in terwyl hulle ‘n stoute liedjie fluit, en dan wag hulle vir die vis om te byt. Engelsmanne noem dit bait, want hulle wag vir die visse om te byt. Hulle skree ook op mekaar: Stywe lyne! Stywe lyne! wanneer die visse mekaar byt.”

“Is dit wanneer die vis loop?”

“Jy is nou net moedswillig, Geronkie. Visse loop nie, hul stap met ‘n wandelpad. Om hulle te vang, bekruip die vissermanne hulle, en ook die hengelaars. Al wanneer visse loop, is om skool toe te gaan. Dit is waarom hulle ‘n skool visse genoem word. As hulle nie skool toe gaan nie, lees hulle niks Afrikaanse stories en boeke nie, en dan is hulle vir die res van hul natuurlike lewens dom.”

“Dankie, Mossieman. Goed verduidelik. Ek begryp nou die filosofie en wetenskaplike onderbou van visvang. Maar ek verstaan nie die tegnieke en metodes van visvang nie, nog minder van hengelary.”

“Ek het daaroor opgelees Geronkie, navorsing gedoen. Dit is nie so moeilik om te begryp nie. Oorbevolking en aardverhitting en mense wat walvisse skiet, is besig om die visbevolking van die oseane uit te roei. Die Japannese skiet en vermoor walvisse en dolfyne vir navorsingsdoeleindes, maar hulle jok en hulle put die visbronne van die oseane uit met hul onbesonne optrede.”

“Sulke vabonde! Agge-nee, Mossieman. Dit is erg teleurstellend dat hulle so optree, en dit is goed dat die res van die wêreld se mense die Japannese keer.”

“Dit is wat die vissermanne en hengelaars in Valsbaai doen, Geronkie. Hulle voer die visse met die aas aan hul visstokke. Ek het dit met my eie oë gesien; ekke persoonlik het hulle die hele dag lank sit en dophou. Elke vyf minute herhaal hulle dieselfde ding deur alles oor en oor te doen.”

“Deur aas in die water te gooi?”

“Ja! Hulle sit die aas aan die ent van die vislyn, saam met ‘n sinker en ‘n hoek wat met ‘n draai loop, en dan gooi hulle die hele spulletjie in die water. Die skool visse wag daar anderkant, diep in die see met hulle bekke oop, en dan eet hulle die kos wat die vissermanne vir hulle gooi. Die visse is baie dankbaar vir die gereelde kosvoorsiening, en ná so vyf of tien minute katrol die visserman weer die vislyn in. Dan sit hy nuwe vars kos aan die lyn, en gooi dit weer vir die honger vissies wat in die oseaan wag.”

Mossieman se storie is nuus vir Geronkie, en hy neem ‘n verposinkie om al die inligting mooi te assimileer. Rustig skink hy vir hom en Mossieman elk ‘n beker van die beste Boeretroos wat hulle in ‘n flessie, wat hulle al die pad van die Vrystaat af, saamgepiekel het. Net daar op die Strand se strand klink hulle ‘n bekertjie op die Kaapkolonie se hengelbedryf, en die slim visse van Valsbaai. Saam met die Boeretroos nuttig Mossieman en Geronkie ‘n stukkie boerbeskuit, koeksisters en ‘n snyseltjie melktert. Daar is niks lekkerder op die hele Moederaarde nie, as Vrystaatse koeksisters en melktert. Omgeklits en varsgebak.

“Ek wonder nou, Mossieman” vra Geronkie moedswillig, “wat is die storie met die visse wat die hengelaars nou en dan uit die water trek? Ek het hulle al gesien; hulle hang en wriemel so aan die einde van die vislyn, daar waar die sinker en die aas is. Alles wriemel: die sinker, die aas, die vislyn, die visserman en die sardientjies.”

“Ek weet waarvan jy praat, ek het ook gesien dat die vissies half bedwelmd en deurmekaar daar aan die einde van die vislyn vasklou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie, Geronkie. Dit gebeur nou en dan dat die sinkers een van die vissies teen die kop tref. Gewoonlik is dit sardientjies, want hul sig is swak en hulle kan nie mooi bokant die water sien nie.”

“Teen die kop? Kaplaks teen die kop? Is jy nou ernstig?”

“Ja, die sardientjies is bekend vir hul swak sig. Hulle is vir ‘n paar minute duiselig en dan klou hulle vir al wat hulle werd is aan die vislyn vas, totdat die visserman sy lewe red en hom weer netjies terug in die water gooi. Dan is almal gelukkig. Ek het selfs gesien dat van die vissermanne mond-tot-mond asemhaling op die sardientjies toepas, sodat hulle asem in hul longe kan terugkry en hul bewussyn kan herwin. Nadat hulle herstel het, swem die klein sardientjies terug skool toe om weer hul lesse by te woon.”

“As ek jou nou reg verstaan Mossieman, gaan die vissermanne met leë hande huistoe, die hengelaars vang niks hengels nie en die visse is almal veilig terug in hul skool? Wat gebeur dan?”

“Wel, dan stap die vissermanne hier na die Oceana-viswinkel oorkant die Strand se strand toe, om vis en chips te koop sodat die gesinnetjie darem iets vir aandete op die tafel kan hê. So hulle keer nie juis met leë hande huiswaarts nie.”

“Mooi so vir daai vissermanne!” roep Geronkie uit, “Wel gedaan! Kom ons klink ‘n bekertjie boeretroos op die slim hengelaars van die Kaapkolonie. En die vissermanne.”

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started