Spookasem

“Het jy al ‘n perd se stert getrek, Mossieman? En toe kleinkoppie getrek en weggehardloop?”

Geronkie loer onderlangs na Mossieman en sien dat sy boesemvriend diep dink. Hy hou daarvan om Mossieman se siel uit te trek, veral as Mossieman sit en dink en aan sy lekker Vrystaatse perskes proe-proe. Dit was misreëntjie-aand in die Vrystaat, en die dowwe maan het net-net agter die donker wolke uitgeloer om te kyk of hy spoke kon sien. So nou en dan kon mens hoor hoe ‘n wolf treurig in die maanlig sit en huil omdat jakkals sy kos gesteel het.

“Nee,” sê Mossieman besadig, “maar ek het al ‘n spook se stert getrek!”

“’n Spook? Nee wat, Mossieman, nou praat jy lààng stories. Spoke het mos nie sterte nie!”

“O ja hulle het! Ek het al een gesien. Met my eie twee mossie-oë.”

“Rêrig? Jok jy nie nou vir my nie, Mossieman?” mompel Geronkie bangerig en hy loer agterdogtig oor sy skouer. Spoke en spookstories gee hom koue rillings. “Spoke het mos nie sterte nie soos wolwe en jakkalse nie, man. Of het hulle?”

“In die Vrystaat het hulle,” sê Mossieman in ‘n lae fluisterstem. “Die spoke roskam selfs hul sterte om aanvallig te lyk in die maanlig.”

Geronkie se oë word al hoe groter en hy loer na die donker maan agter die grou wolke.

Mossieman vat saggies met sy poot op Geronkie se skouer en sy stem word al hoe sagter.

“Die spoke in die Vrystaat is baie slim spoke, Geronkie. Hulle maak net kinders bang wat self bang wil wees.”

“Is dit waar?” vra Geronkie en hy voel ‘n krieweling langs sy rugraat afloop, amper soos ‘n yskou straaltjie water. “Wat van kinders.”

“Veral kinders,” fluister Mossieman geheimsinnig.

“Maar waarom Mossieman?” vra Geronkie benoude boude.

“Want kinders smaak so lekker.”

Geronkie skrik en sit sy pote oor sy oë.  “Nee man, Mossieman, spoke eet tog nie kinders nie! Agge-nee, Mossieman. Eet spoke dan kinders?” Geronkie is só bang dat hy sy oë toedruk en net effens deur sy vingers loer. Hy kan voel hoe sy bloedruk al hoe laer styg.

“Nie àlle kinders nie,” antwoord Mossieman geheimsinnig en hy knip sy oë alwetend. “Net die stoutste kinders.”

‘Waarom eet spoke net stout kinders, Mossieman? En nie soet en gehoorsame kinders nie?”

“Want stout kinders smaak lekkerder as soetes.”

Geronkie kry so ‘n siddering langs sy rugraat af en dit voel vir hom asof ‘n koue windjie onderdeur sy donkie-ore waai.

“En… en… eet spoke net die stout kinders op?”

“Ja,” beaam Mossieman. “Die spoke gooi so bietjie sout by om die stout kinders lekkerder te laat smaak.”

“M…Mossieman,” bewe Geronkie se stemmetjie en hy sidder van die koue. Waarom het jy dan die spook se stert getrek? Was jy nie bang hy eet jou op nie?”

Mossieman loer om hom rond en fluister in sy sagste stem: “Jy moet net wag vir die regte oomblik om ‘n spook se stert te trek, Geronkie.  Anders kom hy agter wat jy doen en dan eet hy jou dalk lewendig op.”

“M .. maar .. hoe weet jy wat die regte oomblik is, Mossieman?” vra Geronkie bangerig.  “Hoe weet jy die spook gaan jou nie sien en opeët nie?”

“Jy moet wag tot middernag,” fluister Mossieman geheimsinnig. “Dan staan jy by die hek van die begraafplaas totdat al die spoke uitkom.  Nes die laaste spook verykom, dan gryp jy hom aan sy stert!”

“M…maar waar gaan die spoke dan nà middernag heen, Mossieman?”

“Hulle kom hiernatoe,” fluister Mossieman dramaties, “dan soek hulle deur al die huise om die stout kinders te kry.”

“En as jy die spook se stert by die hek van die begraafplaas trek?”

Mossieman loer geheimsinnig rond en fluister saggies in Geronkie se oor.

“Dan kom hulle eers môre-aand om jou te vang!”

“Boe hoe!”

Geronkie balk kliphard van die skrik en druk sy oë toe. Na ‘n rukkie maak Geronkie weer sy oë oop en hy is sommer baie vies toe hy sien hoe lekker Mossieman in die maanlig vir hom lag.

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started