Kleure van die Reënboog

“As Suid-Afrika ‘n reënboognasie is Mossieman, hoeveel kleure van die reënboog is daar?”

“Ek weet nie veel van ‘n boog af nie, maar ‘n pyl en boog is ‘n snaakse ding Geronkie. Die Kruisvaarders gebruik hulle al van die Middeleeue af om mense te skiet.”

“Nie ‘n pyl en boog waarmee jy mense se boude skiet as hulle stout is nie, Mossieman. Die hemel se reënboog. Nadat dit gereën het, en al die veld is vrolik. Die voëltjies sing en die feetjies dans. Wanneer iemand jou met ‘n pyl op jou boude skiet, is jy na die tyd pimpel en pers.”

“Ons moet buite gaan staan as dit reën Geronkie. Mens kan nie die reën ruik as jy binne in die huis voor die televisie sit en op jou selfoon speel nie. Binne-in ‘n huis kan jy nie die water op jou velletjie voel nie, en die heerlike reënwater vol minerale op jou tong proe nie. Wanneer dit reën en koud in die Kaapkolonie is, word jy blou in die gesig as jy nie ‘n sambreel het nie.”

“Dan word jy nat agter die ore,” giggel Geronkie. “Wanneer ek in die spieël kyk, skrik ek my asvaal. Toe wonder ek watter kleur is asvaal? Almiskie is asvaal soos groen, net baie leliker. Verkleurmannetjies wat na die reën kom water drink, is groen. Liggroen, donkergroen – so groen soos ‘n sitroen.”

“Bonjour, Geronkie! Ça’va? Is ‘n sitroen ‘n Franse motor wat agteruit ry, of ‘n sitrusvrug? Soos ‘n oranje nartjie, of ‘n lemoen? Is ‘n oranje lemoen ‘n sitroen?”

“Ek het al ‘n rooi sitroen gesien, Mossieman. In Parys langs die Vaalrivier, en in Parys langs die Seine waar die Eiffeltoring staan, en die Champ de Mars, en die manjefieke Arc de Triomph aan die bopunt van die Champs Elýsees. En ek het al kinders gesien, wat rooi is van woede wanneer ma en pa hul selfone wegsteek, sodat die arme rooibloedbloedjies darem ‘n boek of twee kan lees om hul powere woordeskat te verbeter.”

“Tjaa… Geronkie, ek ook. Maar daardie kinders het rooi hakskene van al die flikflooi met ander kinders wat pienk bloos. Amper so pienk soos die binnekant van ‘n waatlemoen, wat ook maar net ‘n soort oranje lemoen is.”

“Mossieman, nou ryg jy ‘n riempie! Jy praat te veel nonsens en ek weet nie juis of ek jou moet glo nie. Jy gee my grys hare.”

“Van al die grys hare het jy donkerblou kringe onder jou oë, Geronkie. Jou geel mieliepittande blink in die son.”

“Ek is groen van jaloesie, Mossieman! Vir ‘n oomblik het ek gedink jy gaan die blou rook uit my slaan omdat ek nie kleure van die reënboog ken nie. Ek is so witgeskrik soos ‘n laken.”

“Dit is ‘n perd van ‘n ander kleur Geronkie,” lag Mossieman. “Maar ten minste ken jy nou die kleure van die reënboog. Ek het vir jou ‘n gediggie geskryf om te onthou:

 Indigo, pers en geel

Rooi granaat vol pitjies so soet

Oranje lemoen soos die oggenstond se groet

Blou soos ‘n turksvy se vou

Al die kleure van die reënboog

ken jy nou…

Bloedrooi soos grenaatpitjies se soen

Kyk nou wat jy met die reënboog se kleure kan doen.”

“Mooi gediggie, dankie ou maat. Maar wat is die simboliek van die reënboog, Mossieman? Wat beteken ‘n reënboog en waarom verskyn hy slegs as die reën verby is? En wat van die pot goud? Is daar ‘n potjie goud aan die einde van die reënboog, Mossieman?”

“Maar natuurlik is daar ‘n pot goud aan die einde van die reënboog, Geronkie! Dit is nie fopnuus nie. Het jy nie al die prentjies en illustrasies gesien wat mense teken nie, daar is altyd ‘n potjie goud. Met elke reënboog stuur God vir Moederaarde ‘n boodskap dat die storm verby is en die reën opgehou het, dat jou onstuimigheid en onsekerheid verby is, en dat jy nuwe dinge kan aanpak, ;n nuwe begin kan maak. Nuwe avonture wag op jou.”

“Kom ons gaan steel daardie potjie goud, Mossieman. Toe-toe, kom ons gaan steel hom.”

“Nee wat Geronkie, my dom ou donkie. Sóóó onnosel is nie ek of jy nie. Hulle gaan jou arresteer en toesluit vir diefstal. Wat meer is, as jy die potjie goud aan die einde van die reënboog steel, bly daar niks vir die res van die beskawing, die wêreld se bevolking en Moederaarde oor nie.”

“En wat dan?”

“Aardverhitting!”

“Aardverhitting?!” frons Mossieman.

“Mag ek maar Engels praat in die Vrystaat? Meeste kinders in Suid-Arika praat in elk geval Frengels op hul selfone. “Global warming is a global warning!”

“Dit is alles waar, ja Geronkie,” sug Mossieman en draai sy bofbalpet agterstevoor op sy kop rond. “Daarom los ons daai potjie goud aan die einde van die reënboog, net daar waar hy is.”

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started