Die Kameelperdperdjie

     Daar was groot plesierigheid en vreugde in die hele Vrystaat, toe Ma Kameelperd aan ‘n klein kameelperdjie geboorte gegee het. Mens kan maar sê die vreugdevure het gebrand, die sofars het geblêr, die kinderkrans het gedans en die Kaapse Klopse het geriel dat die stof so staan.

Die klein kameelperdjie was aan die begin van sy lewe nie heeltemal seker of hy ‘n hy of ‘n sy is nie. Sy kameelperdma het ook nie veel gehelp om die aanvanklike verwarring op te klaar nie. Sy het voortdurend na haar nuwe kameelperdbaba as “my liefling baba,” of “my hart se punt,” of “my hartjie my liefie” en “my kroon” verwys. Dit was vir die klein kameelperdjie die mooiste woorde op aarde om te hoor, maar dit het nie ‘n bydrae gelewer om van hom ‘n kameelperdjie of ‘n giraffe te maak nie.

     “Mààà…” kla die klein kameelperdjie eendag by sy ma, “ek is vervelig.”

     “Vervelig, my liewe kind? Hoe dan so?”

     “Want ek weet nie of ek ‘n seuntjie of ‘n meisietjie is nie, of dalk ‘n kameelperdjie of ‘n giraffe nie!”

     “Miskien voel jy nou effens verveeld, my lieflinkie, maar jy is beslis nie vervelig nie. Daar is nie so-iets soos ‘n verveelde kind nie, want kinders het altyd boeke om te lees om nuwe woorde te leer.”

     “Beteken dit dat ek ‘n ongeletterde kameelperdjie is, Ma? Moet ek nou boeke lees om meer woorde te leer?”

     “Wel,” antwoord die kameelperdjie se ma besadig, “dom kameelperdjies lees minder boeke as slim kameelperdjies. Die lewe in die Vrystaat is net plesieriger as jy meer woorde ken.”

     “Sal die boeke sê of ek dalk ‘n kameelperdmeisie is, Ma?” vra die klein kameelperdjie besorg.

     “Ja, dan sal jy weet dat jy ‘n kameelperdhingsie is, en nie ‘n kameelperdmerrietjie nie. Of is dit nou ‘n kameelmerrietjie? Wag, laat ek dink! Kry mens ooit kameelperdhingste en kameelperdmerries? Dit is waar: hoe meer woorde jy in die skool en in jou boeke lees, hoe meer verstaan jy die verskil tussen mannetjies en wyfies, tussen seuntjies en dogtertjies, tussen onderwyseresse en onderwysers, tussen mans en vrouens. En die belangrikste van alles, seuntjies moet altyd sorg dat hulle dogtertjies respekteer, en hulle nooit ooit as te nimmer seermaak nie. Wag, nou onthou ek! Ek is seker die boeke sal sê dat jy ‘n kálfie en nie ‘n vulletjie is nie. Die woord vulletjies word vir ander soorte dierekinnertjies gebruik. Jy is nie ‘n vulletjie nie. Jy is jou moedertjie se bulkalfie!”

      “Maar as ek ‘n bulkalfie is, wat is Ma dan?” vra die bulletjie, nou nuuskierig om álles te weet!”

     Trots antwoord sy ma, “Ek sal jou sê wat jou pappa my noem. Hy sê ek is sy baie mooi kameelperdkoeitjie! En dan sê hy ook hy is my groot en sterk kameelperdbul! Nou weet jy.”

     “Sjoe!” sê die kameelperdbulletjie, en hy stoot sommer sy gevlekte borsie trots uit.

     “Ja,” antwoord die ma trots. “Dit is presies hoe dit is. Ek kan beslis met sekerheid sê dat jy nie ‘n vervelige kameelperdkind is nie, my hartediefie. Jy is beslis ‘n kameelperdkalfie, en ‘n bulletjie daarby. Ek is so bly jy is my kindertjie.”

     “En is ek ‘n giraffe daarby?”

     “Ja,” lag die kameelperdjie se ma; “dit is die ander woord wat die slim boeke ons al mee beskryf het!”

     “Waarom is Ma bly dat ek Ma se kindertjie is?” wil die klein kameelperdjie vir oulaas weet.

     “Want, toe jy hier aangekom het, het ons onmiddellik geweet dat ons die beste kindertjie in die hele wêreld gekry het om by ons te kom bly.”

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started