Raai, Raai, Riepa

Raai, raai, riepa

Mossieman is ʼn platjie wat baie daarvan hou om poetse te bak, en al die ander diere in die Vrystaat om die bos te lei. Geronkie die Donkie en Mossieman se ma’s en pa’s was groot vriende – hulle is omtrent saam gebore en van kindsbeen af al boesemvriende. Ongelukkig vir Geronkie beteken dit dat hy dikwels aan die ontvangkant van Mossieman se kwinkslae is, en as Mossieman die dag lus vir raaisels, roep hy sy ou boesemvriend eerste nader om ʼn bietjie die gek met hom te skeer. Alhoewel Geronkie die slimste donkie in die hele Vrystaat is, snap hy nie altyd al Mossieman se wyshede en onsinnighede nie. Veral nie as dit by raaisels kom nie.

“Raai-raai bietjie, Geronkie, ek is ʼn reus en ek het ʼn doring op my neus”

“Is jy ʼn koggelmander?”

“Nee-man, raai weer ‘n keer.”

“ʼn Paternoster renoster.”

“Ja. Noem ses groot diere wat in Bloemfontein se bos woon?”

Geronkie krap sy groot flap-ore met sy voorpoot om te dink. “Vier olifante en twee renosters, Mossieman. Dit maak ses.”

“Reg so. Noem vir my twee diere wat nie kan swem nie.”

“ʼn Renoster.”

“Nee, Geronkie!” Ek het gesê twee diere.”

“Twee renosters.”

“Dit is reg. Noem vier diere wat nie kan spring nie.”

“Vier olifante.”

“Verkeerd, Geronkie. Nie so vinnig nie. Jy moet dink aan vier diere wie se pote op die grond bly as hulle spring.”

“Hmmm…” Geronkie dink bietjie en krap weer sy lang flap-ore. “Slange kan nie spring nie, ook nie akkedisse nie. Ook nie walvisse nie en kameelperde nie. Daar’s hy! Slange, akkedisse, walvisse en kameelperde kan nie spring nie.”

“Mooi so, Geronkie, jy word al hoe slimmer. Hoe meer raaisels jy oplos, hoe slimmer word ons altwee. Noem vir my drie diere wat hulle eie hare kan kam?”

“Hoenders het kamme, maar nie henne nie, want jy kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie. Drie hoenders!”

“Doodreg. Noem drie diere wat nie kan hardloop nie.”

“Daardie antwoord is maklik, Mossieman. Wilde visse, kanaalape en springslakke.”

“Dit is reg, Geronkie, jy is slimmer as ʼn dom eseltjie. Weet jy watter voëls hou baie van eiers, veral roereiers?”

“Dit is ook maklik, Mossieman. Reiers! Reiers hou van eiers.”

“Jy is baie slimmer as wat jy lyk, Geronkie! Kom sit hier langs my, maak jouself gemaklik. Ek is nog lank nie klaar met jou nie, jy moet eers nog ʼn paar raaisels oplos voordat jy jou middagslapie kan geniet. Wie sê altyd: die bosveld is my woning, ek is die dierekoning?”

“Maklik, Mossieman. Dit is Mys die Muis. Leo Leeu was altyd die koning diere en die miere, totdat Mys die Muis sy stert aan ʼn moerbeiboom vasgebind het. Nie Mys se stert nie, Leo Leeu se stert. Toe lag die diere vir hom en van toe af loop Leon Leeu stert tussen die bene hier in die Vrystaat rond.”

“Wie is ek? Met my lang bene, rek ek my nek tot wie weet waar?”

“Is jy ʼn springkaan? Of dalk ʼn giraffe of ʼn kameelperd? Is ʼn giraffe en ʼn kameelperd dieselfde ding, Mossieman?”

Nou is dit Mossieman se beurt om sy spikkelbonte kop met ʼn verepoot te krap. Geronkie vra tog sulke moeilike vrae en selfs vir ʼn slim mossie is dit nie altyd maklik om aan die regte antwoord te dink nie. “Ek weet nie, Geronkie. Ek dink dit is dieselfde dier. Die enigste verkil is, ‘n giraffe praat Engels en die kampeelperd Afrikaans.”

“Wat sê jy nou, Mossieman, kan kameelperde nie Portugees, of Russies, of Urdu of Spaans praat nie?”

“Nie as hulle in Afrika bly nie. Hier is jou laaste raaisel, Geronkie, dan kan jy gaan slaap. Watter dier het ʼn stertjie van agter en ʼn stertjie van voor?”

“Die antwoord is maklik, Mossieman, dit is ʼn likkewaan. Want ʼn likkewaan het een stert agter en ʼn ander een wat by sy bek uitkom.”

“Wel, Geronkie, dit is nou nie eintlik die antwoord wat ek verwag het nie. Ek het altyd gedink dit is Ollie Olifant wat daar langs die magtige Sandrivier bly.”

“Miskien, maar olifante het slurpe vooraan, nie sterte nie. Maar nou het ek ʼn raaisel vir jou, Mossieman. Wie is die mooiste, oulikste, slimste en pragtigste dier wat daar nog ooit was, in die hele geskiedenis van die Vrystaat? En hy is baie aantreklik ook. Ek sal vir jou ʼn leidraad gee, Mossieman, hy is wonderlik, fraai, goed opgevoed met die beste diere maniere en hy is altyd ʼn lojale ondersteuner van die onoorwonne en beroemde Vrystaatse rugbyspan, die Cheetahs?”

“Die antwoord is voor die hand liggend, Geronkie. Dit is jy! Want ʼn donkie soos jy, sal maar altyd ʼn wonderlike ding bly!”

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started