By die een Oor in…

Wanneer jy 'n leeu in die Vrystaat teekom, is daar die baie tyd om die maanhaar te ondersoek om te sien watter soort leeu dit is nie. 'n Mossieman en Geronkie die donkie storie.
‘n Vrystaat leeu

“Wanneer jy ʼn leeu in die Vrystaat teekom, is daar nie baie tyd om die maanhaar te ondersoek om te sien watter soort leeu dit is nie,” vertel Mossieman vir sy boesemvriend, Geronkie die Donkie. Dié twee rakkers lê elke dag op die naat van hul rûe op die walle van die magtige Sandrivier in die middel van die Vrystaat, om beter te kan dink hoe om meer liegstories te vertel. “Leeus en luiperds is amper dieselfde en ewe skelm, luiperds het net meer kolle as leeus en hul sterte is krom.”

“Jy is te klein om ʼn grootwildjagter te wees, Mossieman” teem Geronkie moedswillig, terwyl hy sy flenterore flap om ʼn lastige sonbesie te verwilder.

“Dit is verkeerd om diere te skiet, Geronkie, toe mik ek maar met my kettie vir die leeu se oor. In die Vrystaat is ketties belangrike wapens omdat daar so baie skaapappeltjies en grootwild is. Skaapappeltjes maak die beste kettie-ammunisie omdat hulle koëlrond is, so hard soos ʼn ongehoorsame laerskoolkind se klipkop. ʼn Mooi, ronde klein skaapappeltjie laat jou kettie meer reguit skiet ook. Dit is hoe ek die leeu geskiet het met my kettie. Ook nie enige ou leeu nie Geronkie, dit was ʼn tamaaie leeu met vreesaanjaende geel oë en maanhare wat so ʼn boog in die lug gestaan het.

“Jy had reg, Mossieman, by die een oog in en by die ander oor uit.”

Daardie dae was die Vrystaat vol ysbere en leeus, hulle het sommer hier duskant Virginia langs die magtige Sandrivier loop en wei. Ek wil nou nie spog nie, maar die populierbome op die walle van die rivier het dit vir ons kettiejagters maklik gemaak om die grootwild te bekruip. Jy moes net baie versigtig wees dat jou skaapappeltjies nie uit jou knapsak val so met die bekruipery nie. Al moet ek dit nou self sê, ek was nogal goed daarmee om leeus te bekruip, nadat ek die tegniek in die weermag aangeleer het. Ons het dit leopard crawl genoem. Jy moes jou boude knyp en jou ore plat teen jou kop trek sodat die leeu nie kon sien of ruik dat jy hom bekruip nie.”

“Maar Mossieman, jy is dan ʼn mossie. Hoe bekruip ʼn klein voëltjie soos jy ʼn groot maanhaarleeu deur die lang gras?”

“Jy is darem baie nuuskierig, Geronkie. Waarom wil jy weet? Namens wie vra jy hierdie vraag?”

“Ek vra maar namens myself, Mossieman” vra Geronkie nederig om verskoning.

“Hoe? vra jy, Geronkie. Hoe? Ek sal jou vertel hoe! Baie versigtig, voetjie vir voetjie, soos die stilte voor ʼn storm. Jy moet die hele tyd jou asem ophou, want leeus het baie fyn ore en hulle kan jou longe hoor asemhaal. Agter die leeu het daar ʼn swart kraai hoog in die takke van ʼn boom gesit om te sien wat gebeur. Ek was bang die swart kraai hoor my en dan kwetter hy om die leeu te waarsku. Maar daardie dag was ek gereed vir die leeu waar hy staan en wei het. Ek het versigtig nader gesluip om so naby as moontlik aan die leeu te kom om te skiet. Goeie jagters soos ek laai eers hul kettie as hulle naby aan die prooi is, nie as jy nog ver is nie, want die kettie kan per ongeluk afgaan en dan skiet jou jouself ʼn bloukol op jou hakskeen. Nee, ek was lekker naby aan die leeu toe ek my kettie gelaai het met die grootste klein skaapappeltjie wat ek in my knapsak kon kry. So ʼn sappige goudgeel skaapappeltjie wat net reg in my kettie se slingervel gepas het. Die appeltjie was so soet en sappig, ek was eers lus en eet hom, maar toe besef ek dat ek te min skaapappeltjies oor sal hê om die leeu mee te skiet.

Die leeu het niks agtergekom nie. Nie eers die kraaie wat gewoonlik die leeus waarsku wanneer gevaarlike jagters soos ek deur die grashalms sluip, het gekwetter nie. Dit was doodstil op die walle langs die Sandrivier, doodstil. Jy kon die spanning in die lug met ʼn springkaan se agterbeen sny. Dit was asof almal vir my gewag het om my skoot met my kettie af te trek en die leeu onderstebo te skiet.

So nou en dan het die leeu opgekyk en wreed in my rigting geloer, maar my ore was plat teen die grond en ek weet hy kon my nie sien nie. Ek was so naby aan daardie leeu dat ek kon sien hoe hy sy oë knip-knip en sy stert swaai. Miskien was die leeu effens bysiende, ek weet nie, maar ek was seker hy kon nie sien hoe ek my kettie laai nie. Van die ander grootwildjagters wat ek al in my roemryke jagloopbaan ontmoet het, het vertel jy moet stil lê as jou prooi jou daar in die gras sien of hy aan jou kom ruik. Dit is beter om stil te lê en te maak of jy dood is, as om die leeu skrik te maak en dan hap hy jou dalk. Meeste leeus is maar op hulle senuwees en baie onvoorspelbaar, mens moet hulle nie sommer vir enige rede skrikmaak nie. Wel, jy kan hulle skrikmaak, net nie gereeld nie.

In elk geval, Geronkie, ek was gereed, paraat, my kettie was gelaai en ek het soos ʼn trapsoetjies nader gekruip, voetjie vir voetjie. Die hare op my tande het regop gestaan en ek kon sien hoe bang daardie leeu vir my was. Hy het nou en dan sy tamaai kop opgelig om heen en weer te kyk en ek kon by sy een oor in sien en by die anderkant uit. Dit was ʼn naelbyt-oomblik, Geronkie! Naelbyt sê ek jou. Die leeu het sy bysiende oë ʼn paar keer verbroureerd geknip-knip en ek kon aanvoel dat die oomblik reg was om hom met my kettie te piets. Versigtig het ek die rek teruggetrek en die skaapappeltjie mooi sekuur op die leeu se oor gerig. Die slingervelletjie het styfgespan en ek kon voel hoe my hart in die leeu se keel klop. Toe ek die slingervel los, het daardie skaapappeltjie soos ʼn pyl uit ʼn reënboog reguit op die leeu se oor afgepeil.”

“Wat gebeur toe, Mossieman?” vra Geronkie angstig, sy flenterore platgetrek van al die spanning. “Ek sukkel bietjie om agter die byl van die kap te kom. Het jy die leeu met een kettieskoot morsdood geskiet? Het hy omgeval en pens-en-pootjies, bene in die lug op die grond gaan lê? Wat het die ander diere van jou doodskoot gesê?”

“Wel Geronkie, nie eintlik nie, want ʼn baie snaakse ding het gebeur met daai leeu. Die skoot was akkuraat, reguit soos ʼn krom swaard en die skaapappeltjie het die kwaai leeu presies op sy oor getref. Maar net voor die skaapappeltjie by sy oor aangekom het, toe draai daai leeu sy kop dwars. Waarom weet ek nie. Ek weet nie of die leeu aangevoel het dat die skaapappeltjie op pad was nie, maar net op daardie oomblik het hy sy tamaaie kop skuins gedraai. Die skaapappeltjie is by sy een oor in en by die anderkant uit. Regdeur, sonder om aan iets te raak. Dit was soos ʼn mes deur warm botter, soos ʼn missiel wat deur die lug trek, akkuraat en presies soos wat jy van ʼn Vrystaatse skaapappeltjie verwag. Dit was iets om te sien, Geronkie, ʼn merkwaardige oomblik.”

“Wat het met die leeu gebeur, Mossieman? vra Geronkie skepties. “Ek is bekommerd oor hom.”

“Die leeu? Die leeu het so ʼn effens verdwaasde uitdrukking op sy gevreet gekry, Geronkie en toe soos ʼn pardoemskoek plat op sy agterstewe gaan sit. Ek kon sommer sien daai leeu het nie mooi begryp wat met hom gebeur nie. Die skaapappeltjie is regdeur, waarom weet ek nie. Daar was nie bloed of so-iets nie. Ek kan verstaan dat die leeu verward was, hy het sy wind uit geskrik. Nie alle grootwildkettiejagters soos ek gebruik skaapappeltjies as ammunisie nie. Party gebruik perskepitte of mieliestronkie. Ek het gehoor dat mieliestronke jou regtig kan seermaak, veral as hy dwars deur jou ore trek. My leeu het net bietjie neergeslaan van die skok, ek kon sien hoe sy broek bewe toe hy nà ʼn rukkie weer orent kom om die stof van sy agterstewe af te skud. Hy het nie eintlik iets oorgekom nie, net so ʼn dowwe uitdrukking in sy geel oë gehad toe hy wankelend daar wegstap. Ek dink dit is die suisgeluid van die skaapappeltjie hier deur sy ore wat hom gevang het, amper soos ʼn spuitvliegtuig wat deur jou kop vlieg. Ek dink die klank het hom laat omslaan.”

“Mapstieks, Mossieman, dit is darem vir jou ʼn storie, nê! Dink jy die leeu sal herstel nadat jy hom so geskiet het?”

“Ek dink so, Geronkie. Hy gaan maar net vir ʼn rukkie bietjie doof wees.”

“Dit klink vir my na ‘n wolhaarstorie, Mossieman! Hoe weet jy verseker dat die skaapappeltjie by die leeu se een oor in en by die ander een uit is?”

“Onthou jy daai kraai wat hoog in die takke agter die leeu gesit het? Toe al die ander voëls wegvlieg, het hy daar roerloos op die tak bly sit. Toe ons nader stap, sien ons dat daai kraai drie oë het. Ek het eers gedink dat dit ‘n rare kraaisoort moet wees wat ons nog nie voorheen in die Vrystaat gesien het nie. Maar jy sal my nie nou glo nie Geronkie, by nadere ondersoek blyk dit toe dat die kraai se middelste oog geel was. Geel! Net soos ʼn skaapappeltjie. Dit was ʼn kolskoot, tussen die oë. Siedaar! Daar is die bewys dat my skaapappeltjie regdeur die leeu se ore getrek het. Jy kan maar gaan kyk daar langs die Sandrivier, hoog in die populierboom se takke. Daai kraai sit vandag nog daar met die skaapappeltjie tussen sy oë en ʼn verdwaasde uitdrukking op sy gesig.”

“En die leeu, Mossieman? Wat het van hom geword?”

“Nee, hy het maar net daar weggestrompel, die bosse in. Al wat van daardie leeu oorgebly het, was twee rye spore.”

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started