Ouderdom is nie vir Kinders nie

Ouderdom pla my nie eintlik nie, net die newe-effekte krap ‘n bietjie waar dit nie juk nie.

Ek het ‘n paar planne om ouderdom die hoof te bied, vir ‘n ses te slaan, sy stroppie net bokant sy kroppie af te ruk, die vonkie in sy stronkie te blus. Die probleem met ouderdom is, niemand gee jou genoeg tyd om daarvoor te oefen nie. Voor jy jou oë uitvee is jy sestig en dan moet jy maar self oor die weg kom.

Eerste ding wat jy moet doen as jy en jou eggenote vir ‘n aandjie uitgaan (dit beteken julle ry net na vyf uur), is om haar te herinner om julle name te onthou. Jy moet onthou waar julle bly. So kom julle weer veilig tuis na ‘n aandjie waar julle die stad rooi geverf het. Dit beteken so agt-dertig en nege-dertig is julle salig in die kooi.

Die eerste honderd jaar van ouderdom is die moeilikste, daarna raak jy gewoond daaraan. Koffie help met hierdie proses, sodat jy krag en energie het om dinge in hierdie ou wêreld nog te verander. Wyn help om dinge wat jy nie meer kan verander nie, gelate te aanvaar. As jy sukkel om hierdie idee, maak die woordjie ‘enjin’ jou mantra vir moeilike tye. Soos, drink koffie, wyn, enjin (nie terselfdertyd nie en verkieslik Pimms met bietjie tonikum by). Ek het altyd gedink wyn is sleg vir jou, totdat ek ophou dink het daaroor, omdat te veel dink nie goed is vir jou nie. Die ouens in die Bybel het baie wyn gedrink en kyk, Israel staan vandag nog kiertsregop om Amerika se ruggraat te vorm.

Ek het eens op ‘n tyd gedink ek is verkeerd oor ouderdom, maar ek verbeel my ek het my misgis. Ek het ook besef dat ek so met die ouderdom saam bietjie gewig opgetel het en dat my broeke al hoe kleiner raak. Ek kan daai ekstra gewiggies maklik verloor, maar ek is nie ʼn maklike verloorder nie, nou los ek dit maar vir dinge wat regtig in die lewe saakmaak. Soos om jonk dood te gaan, so laat in jou lewe as moontlik. En om seker te maak dat as jy die dag doodgaan, jy net een rand in jou rekening oor het. Net omdat jy bietjie sukkel, beteken nie dat jy reeds omgeval het en asem uitgeblaas het nie.

My enigste, laaste raad oor ouderdom is dat jy jou lewe so moet lei dat die dominee nie op jou begrafnis hoef te staan en jok nie. Moet ook nie ophou nuwe vriende soek nie, soek mense wat net so ongebonde en ergehumeurd soos jy self is, met min of meer dieselfde versteurings en afwykings. Moenie na vriende soek wat net so aangenaam en liefdevol is nie, soek na eksentrieke ouens met ‘n skroef los – hulle maak jou laaste jare op aarde veel interessanter. En as jy nou regtig by jou laaste russtasie inboek en jy weet jy kom nie weer daaruit nie, skryf Episkopaalse-Shintoïs onder kerkverband in en R-positief by bloedgroep. Niemand weet wat dit beteken nie en dit is nogal sports om te sien hoe die nursies rondhardloop om te probeer verstaan wat aangaan. Die nursies weet nie of hulle jou dominee of jou paroolbeampte moet bel nie. Daardie onsekerheid in mense se oë oor jou geestesgesondheid en verstandelike vermoë, is nogal pret om dop te hou.

Ek het besluit om definitief nie in ‘n hospitaal of ouetehuiskamertjie dood te gaan nie. Wie wil nou sy laaste gesang saam met ‘n Episkopaalse-Shintoïstiese prediker sing? As dit vir julle lyk of die liggie besig is om te verdoof, trek dan net vir my my Speedo aan, en my swembril en huur ‘n bootjie. Groet my op die kaai, en gee dan die skipper opdrag om my so honderd kilometer die see in van die bootjie af te stamp Sy laaste woorde moet wees: “Swem, Henning, swem!” Honderd kilometer, nê. Nie vyftig nie – ‘I may just make it back’ en dit kan ons nie toelaat nie.

Derde plek is ook reg so

Baie ouens het my al die grappie vertel van die eerste perd wat derde gekom het en veroorsaak dat ek maar later berusting gevind het by die grappie. So is die ouderdom maar, jy besluit of jy gelukkig wil doodgaan, of nie. Dieselfde baie ouens het my altyd gevra waarom ek so hard vir Comrades en Ysterman oefen. Hulle het nooit verstaan dat mens darem in redelik goeie kondisie in die hemel moet aankom nie. En as dit nou dônner en blits en reën op die dag van jou begrafnis, kan almal kop skud en vir mekaar sê – ja, swaer. Dit lyk my daai knorrige ou oom het nou net daarbo aangekom.

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started