‘n Perd van ‘n ander kleur

Perd van ‘n ander kleur

Dit was laat-winter in die pragtige Vrystaat en ‘n paar mismoedige wolkies hang laag oor die horison anderkant Bloemfontein. As jy mooi deur jou een skefiesoog kyk, kon jy net-net die mismoedige wolkies bokant Mossieman se kop en tussen Geronkie die Donkie se twee groot ore sien. Die twee oū vriende sit onder ‘n melankoliese wilgeboom langs die magtige Sandrivier en treur oor Mossieman se perd wat tans oorlede is.

“Wat het met jou oorlede dooie perd gebeur?” vra Geronkie simpatiek en sit sy donkiepoot broederlik sag om Mossieman se vlerkie. Mossieman kyk half bedruk af grond toe, en pink pikant ‘n traan met sy pienk sneesdoekie weg.

“Ag Geronkie, my perd het doodgegaan, lepel in die dak gesteek. Kortom, hy is lang bome toe. Ek dink hy is van ouderdom dood.”

“Hoe weet jy dit?” wil Geronkie nuuskierig weet. “Ek bedoel van sy ouderdom, nie dat jou perd dood is nie?”

“Hy het vreeslik baie plooie en kreukels gehad,” snik Mossieman. “Ek moes hom onderstebo begrawe.”

“Hoeveel kos dit om so ‘n dooie perd te begrawe, Mossieman ?”

“So vyftig rand,” antwoord Mossieman bewoë.

“Dis nou ‘n perd van ‘n ander kleur,” sug Geronkie mededeelsaam. “Ek is baie bly ek is ‘n donkie en nie ‘n perd nie.”

“Hoekom? Ek bedoel waarom?”

“Dit is veel goedkoper om ‘n lewendige donkie te begrawe as ‘n dooie perd.”

“Dit is waar, ja,” sê Mossieman.  “Mens moet nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie.”

“Hoe het jy die geld bymekaargemaak vir jou perd se begrafnis, Mossieman ?”

Mossieman skuif sy mus oor sy oë en bêre sy pienk sneesdoekie versigtig in sy knapsak. “Ek het ‘n slim plan gemaak, soos ‘n Vrystaatse boer. Met Wiskunde.”

“Mossieman,” maan Geronkie agterdogtig, “jy kan nie ‘n slim plan maak met ‘n dom perd nie. Wat het jy aangevang?”

“Ek het hom verkoop.”

“Verkoop!” roep Geronkie verbaas uit. “Het jy jou dooie perd verkoop ?”

“Ja,” sê Mossieman, “teen vyf rand ‘n kaartjie.”

“Vyf rand! Soos ‘n dominee se lotery by ‘n kerkbasaar?”

“Amper so iets,” mompel Mossieman en hy vryf met sy linkerpoot oor sy regterwang.

“Wat het jy gedoen?”

“Ek het my perd uitgeloot en kaartjies aan almal verkoop. Teen vyf rand ‘n kaartjie. Ek het gedink dit is ‘n redelike, markverwante prys.”

“Vir ‘n dooie perd?”

“Ja.”

“Maar mense gaan baie kwaad vir jou wees as hulle uitvind dat jy lotery-kaartjies verkoop om ‘n dooie perd te wen.” Geronkie skud sy kop verontwaardig al in die rondte en frons onderdeur sy ruie wenkbrou vir Mossieman. “Hulle gaan jou tjank aftrap!”

“Maar die mense wat die kaartjies koop, weet mos nie die perd is dood nie.”

“Eisj,” se Geronkie en kyk so skuinsweg na Mossieman, ewe skielik vol bewondering vir sy slimmigheid. “Dit is waar. Wel, nie heeltemal waar nie, maar ook nie ‘n infame leuen nie.”

“Hoeveel kaartjies het jy nogal aan die mense verkoop, Mossieman ?”

“So ‘n duisend rand se kaartjies,” sê Mossieman trots, en hy sit selfvoldaan agteroor, pote agter sy ore.

“Jô! Nou het jy ‘n duisend rand in jou sak!” sê Geronkie bewonderend.  “Jy het ‘n duisand rand wins gemaak.”

“Nee, net nege honderd vyf en negentig rand.

“Waarom?”

“Een ou het sy geld kom terugvra en ek het hom sy vyf rand teruggegee.”

“Net een ou?” vra Geronkie agterdogtig en lekker nuuskierig. “Watter ou?”

Mossieman lag te lekker. “Die ou wat die perd gewen het. Hy was bietjie ongelukkig omdat die perd dood was. Toe gee ek vir hom sy vyf rand terug en sê hy kan maar die perd hou. Hy was nogal baie bly daaroor.”

“Allemintig Mossieman! Dit is nou ‘n slim plan!”

“Ja, ek het vir hom gesê, al wat hy nou moet doen, is om vir die dooie perd ‘n ordentlike begrafnis te hou. Hy het ingestem, en nou is almal dood gelukkig. Die perd ook.”

“Die perd ook,” vra Geronkie agterdogtig.

“Ja, Geronkie. Alhoewel hy bietjie meer dood as gelukkig is.”

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started