Die nommers is vir die krokodille, sê Blouwillem

Die bekende en gewilde rubriekskrywer, Blouwillem Theron, is ʼn vriend van my. Iets waarvoor ek nogal dankbaar is, omdat dit nie maklik is om met iemand so ergehumeurd soos ek, vriende te wees nie. Party moedswillige mense sê hy is die enigste vriend wat ek het.

So ʼn paar jaar gelede organiseer die twee van ons ʼn groot oopwater-swem by die Roodeplaatdam net buite Pretoria, waaraan ʼn paar Olimpiese swemmers uit Engeland deelneem. Sommer met die uitnodiging saam noem Blouwillem terloops vir die Engelse dat daar baie lanklaas enige krokodille en seekoeie in Roodeplaatdam te sien was. Hy dink egter hulle sal veilig wees, want daar is darem so ʼn paar duisend ander swemmers ook in die water en die krokedille vang gewoonlik net die ouens wat die stadigste swem.

Op die dag van die groot Roode 1000-swem, is Blouwillem nie net aankondiger nie, maar getrou aan sy natuur ook seremoniemeester van onhebbelikhede, onnutsighede, liegstoriesvertel en poetsbakkery. Waarvan die bleeklyf Engelsmannetjies met hulle eerste oopwater-swem in Afrika, niks weet nie. Die gebruik en tradisie in driekampe en oopwater-swembyeenkomste in Suid-Afrika, is om swemmers se nommers met swart koukie-pen op arms en bene te skryf, sodat die beamptes op die water nou mooi kan sien wie loop voor, wie tweede is, ens. Dan gryp die beamptes die walkie-talkie en laat weet vir aankondiger op die wal dat die een of daai een nou voorloop en mooi swem. Dan laat weet die aankondiger die skare wat op die walle van die dam sit en kyk en almal is gelukkig.

Die reeds effens senuweeagtige Engelsmannetjies het die oggend by die inskrywingstafels van die groot swem die spulletjie so sit en kyk, totdat een dit naderhand nie meer kon hou nie. “But why do you write the numbers of the swimmers on their arms and legs?” wou hy angstig weet. Met ‘n onnutsige glinstering in sy linkeroog was Blouwillem natuurlik byderhand om te help verduidelik. “Die ‘safety boat’ is reeds daardie oggend vroeg op die dam rondgestuur, so hulle hoef nie te bekommerd te wees nie,” verseker Blouwillem hulle. Daar is nie enige’krokodille of seekoeie raakgesien nie, en die swem behoort darem redelik veilig te wees. Trouens, daar is lanklaas van die krokodille gewaar en dan ook net daar naby die damwal. Hy meen die krokodille is óf bang vir die seekoeie, óf die seekoeie het hulle reeds verlede jaar opgeëet.

O, ja, die nommers op die arms en bene. Nee, die nommers is net daar vir “insurance purposes,” assuransie ast’ware. As dit nou per ongeluk gebeur dat een van die krokodille miskien een van die swemmers beetkry. Dan weet die beamptes watter ledemate by watter swemmers pas en aan watter bloedgroep die swemmer behoort.

Die bleeksiel-Engelsmantjies het maar baie huiwerig in Roodeplaat se koue water geklim om te swem. Hulle het almal, sonder enige uitsondering, in die voorste bondel geëindig. Die stof het behoorlik daardie dag gestaan soos hulle deur die water geklief het. Ek het in my lewe nog nooit so ‘n klomp gemotiveerde swemmers gesien nie, party van hulle het die hele pad beide kante toe asem gehaal.

Die Engelsmanne het Blouwillem wragtig geglo dat die Afrika-krokodille net die stadigste swemmers vang. Nà die swemmery het ons bietjie waterpolo daar naby Roodeplaat se damwal gespeel, maar nie een van die Engelse swemmers wou saamspeel nie. Ek dink ook nie een van hulle het ooit weer teruggekom Afrika toe nie. *

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started