Bertus en Brutus vat die Hasepad

Bertus en Brutus

Een sonnige Saterdagmiddag sit Mossieman hoog in die takke van ʼn groot ou populierboom op die walle van die magtige Sandrivier sy boeretroos en drink. Die voordeel van so hoog in die takke sit, is dat Mossieman alles en almal om hom en onder op die grond kan sien. Sonder dat enigiemand onder op die grond hom hoog in die takke kan sien.

Al met die grondpaadjie langs, onder die populierboom verby, kom twee hasies ruik-ruik aangeskarrel. Elke paar tree steek hulle vas, neusies in die wind, oortjies gespits om met kloppende hartjies te luister of daar nie êrens iets is wat hulle wil vang en opeët nie.

Elke rukkie gaan sit hulle kiertsregop, en al gewaar hulle niks, ruik-ruik hulle in die lug, en dan hop-hop hulle weer vorentoe. Die twee hasies se lyfies trek so effens windskeef, en met die hop-hop vee hul wolhaarstertjies oor die graspolle en spriete langs die grondpaadjie. Nou en dan stop die twee hasies ʼn bietjie om aan die grasspriete te proe en te knibbel. Die hasies se ore bly gespits, en elke keer as hulle dink dat hulle iets hoor, soek hulle oë naarstiglik rond vir ʼn gat om in weg te kruip.

ʼn Breë glimlag kruip oor Mossieman se gesig waar hy bo-in die populierboom die hasies sit en dophou. Ewe skielik hoor die twee hasies droë blaartjies kraak – daar kom ʼn jakkalsie in die paadjie afgedraf. Vinnig kruip hulle agter die spriete langs die pad weg, en hou die jakkalsie nuuskierig dop. Die tweelinghasies is baie bang, en hul nekhaartjies staan sommer soos ystervarkpennetjies orent. Maar die ou jakkalsie draf Voort, verder en verder weg. Nou en dan stop hy, en snuffel rond, luister, en kyk ʼn slag of twee om, en dan weer alkante toe. Al kriewel die jakkalsie se neus van allerhande reuke en klanke, sien of hoor hy niks nie. Toe verdwyn sy wolhaartert die bosse in.

Bo uit die boom sien Mossieman dat die twee hasies baie bang en versigtig is om uit hul wegkruipplek te kom. Die twee lyk vir hom banger as ‘n haas vir ‘n hond.

“Julle twee is maar baie bang vir daardie jakkalsie, nê,” lag Mossieman. Die twee hasies skrik hulle boeglam, en probeer halsoorkop omdop.

“Nee, wel… ja” begin die een hasie onseker, terwyl die ander een versigtig om hom rondkyk. “Ons is net paraat op ons tone, want ons wil nie hê dat enige jakkalsies ons moet opvreet nie. Ons ouer suster het opdrag gegee om ons langsaam te haas.

“Wat is julle name, en waarheen is julle oppad?” verneem Mossieman nuuskierig. Hy vlieg sit-sit van sy hoë tak af en gaan sit op ʼn laer tak, sodat die twee hasies hom beter kan sien.

“My naam is Bertus,” waag die een hasie. “En dit is my broertjie Brutus. “Ons is ‘n tweeling, ons kom van Drieriviere af. Brutus is baie banger as ek; hy slaap net soos ‘n haas, met sy een oog oop.”

“En waarheen is julle reis?” wil Mossieman nuuskierig weet.

“Ons is oppad na ons Oom Geronkie die Donkie se plaas toe, daar anderkant Vierfontein. Duskant Vyfster, in die pragtige Vrystaat. Maar ons haas ons nie, ons stap maar stadig.”

“Maar ek ken vir Geronkie” kwetter Mossieman opgewonde. “Hy is my boesemvriend, ons was saam in Virginia Volkskool. Ek weet presies waar hy op sy plaas bly.”

“Baie dankie, meneer…?”

“Mossieman,” antwoord Mossieman trots. “My naam is Mossieman en ek is ‘n wyse uil. Is dit net julle twee hasies, of is daar nog van julle broers en susters wat hier met die grondpaadjie langs loop?”

“Nee, dit is net ons twee op reis, Mossieman. Ons het nog twee boeties by die huis; die een het ʼn haaslippie en ander een ʼn haasbekkie.”

“Is dit al?” wil Mossiman weet.

“Ons het nog baie nefies en niggies by die huis, benewens ons haasbekkie-broertjies. Die mense sê ons klomp hase teel aan soos konyne.”

“Ek sal julle gaan wys waar Geronkie die Donkie bly, as julle wil.”

“Baie dankie, meneer Mossieman,” laat Bertus en Brutus dankbaar van hulle hoor. “Ons ouer suster het ons gestuur om na Oom Geronkie te gaan soek. Sy het gesê as ons die hasepad vat, sal ons by sy plasie uitkom, Maar dit is beter dat jy ons gaan wys waar hy bly. Dit is haas onmoontlik om die plaas op ons eie op te spoor. Meneer weet mos, hoe meer haas, hoe minder spoed.”

“Nou goed manne, kom ons val in die hasepad. Geronkie bly nie vêr hiervandaan nie, maar voordat ons soëntoe gaan, moet julle eers vir hom ʼn geskenkie kry. Mense of hase daag nie net by familie se huise op nie, jy moet ʼn geskenkie saamvat en vir die plaashuiseienaar gee.”

“’n Geskenkie? Soos blomme bedoel jy, Mossieman? waag Bertus.

“Nee-man, Bertus,” raas Brutus. “Oom Geronkie is ʼn donkie, en as jy vir hom blomme gee, eet hy dit op. En jy gee oor die algemeen nie vir Vrystaters blommme nie, hulle voeter jou sommer met ‘n mieliestronk. Oom Geronkie gaan dink ons is so mal soos hase.”

“Reg so, Mossieman” sê Brutus, “Watter soort geskenk moet ons vir Oom Geronkie kry?”

“Iets wat hom sal laat balk van vreugde, manne. Ek weet – mieliestronke! Dit is haas onmoontlik om vir hom enige iets anders te gee.”

“Ja,” beaam Mossieman. “Julle Oom Geronkie eet baie mielies, en dan herwin die plaaswerkers later die mieliestronke wat oorbly.”

“Herwinning!” roep Bertus verbaas uit. “Soos in ‘recyclng,’ Mossieman?”

“Net so, Bertus, net so!”

“Ek het altyd gedink ‘recycling’ het iets met fietsry te doen,” brom Brutus onderlangs. “Waar gaan ons mielies vandaan kry om vir Oom Geronkie te gee wanneer ons daar op sy plaas aankom?”

“Dit is haas tyd om te gaan, manne. Kom ons vat die hasepad.”

“Reg so, Mossieman,” beaam Bertus en Brutus, skielik opgewonde om hulle beroemde Oom Geronkie te ontmoet.

“Wel manne, julle sal ʼn haas uit ʼn hoed moet uittrek, en bietjie kreatief moet dink. Ons kan langs die pad vir julle Oom Geronkie ʼn paar mielies pluk, dan kan julle ʼn blommerangskikking van die mielies maak. Dan is die mielierangskikking sy geskenkie.”

“Ons hoef nie haastig te wees nie, Mossieman. Kom ons gaan soek eers na mielies vir Oom Geronkie se mielierangskikking.”

“Wat van blaarslaai?” waag Brutus sy beskeie mening. “Moet ons nie vir Oom Geronkie bietjie blaarslaai ook saamneem nie.”

“Nee, ek dink nie so nie,” lag Mossieman te lekker. “Blaarslaai is haaskos, en hy is ‘n donkie. En ons wil nie laat wees nie.”

Langs die gronpad na Geronkie die Donkie se plaas toe, pluk Bertus en Brutus die sappigste Vrystaat-mielies vir hul mielierangskikking. Die Vrystaatse mielielande is wêreldberoemd – so beroemd dat selfs mense oorkant die Garieprivier daarvan weet.

“Versigtig pluk, Bertus en Brutus,” maan Mossieman. “Onthou, haastige werk is halwe werk.”

Uiteindelik is die mielierangskikking gereed, kompleet met ‘n oranje strikkie. Ook maar net betyds, want toe hulle by die plasie aankom, staan Geronkie die Donkie reeds vir hulle by die plaashek en wag. Brutus is skoon oorstelp van opgewondenheid; hy hop-hop vooruit om eerste vir Oom Geronkie te groet.

“Versigtig nou,” roep Mossieman verniet. “Onthou, haastige hond verbrand sy mond! ’n Haastige haas is altyd verbaas.”

“Vanwaar, Gehasie!” balk Geronkie toe hy sy twee nefies by die plasie se hek gewaar. “Het julle sowaar al met die hasepad langs gekom, al die pad van Drieriviere af, net om vir my te kom kuier?”

“Ja, Oom Geronkie!” sê Bertus en Brutus toe hulle die groot mielierangskikking-geskenk aan die verbaasde Geronkie oorhandig. Ons Liewe suster Ester, en Haasbekkie en Haaslippie en almal stuur vir jou baie groete, met ‘n stewige handdruk daarby.”

“Maar kom dan binne, manne! balk Geronkie opgewonde, terwyl hy versigtig aan sy pikante mielierangskikking ruik. “Kom, ons het alreeds lekker middag-ete vir julle en my groot vriend Mossieman voorberei.”

“Die middag-ete ruik heerlik, Oom Geronkie” sê Brutus terwyl hy sy haaslippies aflek. “Wat eet ons? Die aroma is asemrowend.”

“Haaspastei, manne! Wat anders? balk Geronkie guitig van die lag.

“Nee, o wee! skree Bertus en Brutus benoud. “Nie haaspastei nie, Oom Geronkie, asseblief! Nie haaspastei nie! Net-nou eet ons van ons familie!”

“Toemaar julle twee, ontspan,” lag Mossieman. “Julle kry blaarslaai vir middagete. Met ʼn knertsie olyfolie by. En nou weet julle sommer waarom ek en Geronkie so beroemd en berug is, manne.”

“Waarom, Mossieman? Waarom is jy en Oom Geronkie so beroemd en berug?”

“Omdat ons die beste poetsbakers in die hele Vrystaat is. En sommer oorkant die Garieprivier ook.”

“Bon appetit, Bertus en Brutus. Bon appetit!” 

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started