Olikrokkenosterbobbefantelikedil

Mossieman, die slimste mossie in die hele Vrystaat en sy boesemvriend Geronkie die Donkie, die stoutste donkie in die hele Vrystaat, ontspan eendag rustig langs die magtige Sandrivier naby Virginia. Virginia is ʼn klein Vrystaatse myndorpie, met groot grys mynhope soos Egiptiese piramides, en ronde watertenks en plat koekepanne wat langs die mynskagte ry om goud en uraan onder die grond uit te bring. Nét die beste, slimste en aantreklikste diere, soos Mossieman en Geronkie (en somtyds mense), mag grond in Virginia besit en permanent daar bly.

Nét so voor sononder een middag verkyk Mossieman en Geronkie hulle aan al die diere wat in die magtige Sandrivier kom water drink. Groot diere en kleintjies, vettes, maeres, langes, kortes en koddiges. Diere met groot ore en klein ogies, kort bene en lang sterte, met krom bobbejaan-arms en lang neuse – almal het elke dag kom water drink.

Die diere staan reguit in ʼn ry by die rivier, omdat die Koning van al die Diere (Mossieman), ʼn dekreet uitgereik het dat die waterdrinkery elke dag ordelik en netjies moet geskied. Niemand mag voor in die ry indruk nie, en niemand mag agter inval nie. Niemand mag die water mors nie, want water in die Vrystaat is baie skaars en kosbaar. Die meeste riviere in die Vrystaat het nie krane wat jy kan oop of toedraai nie, daarom moet almal help om water te spaar.

“Kyk al die diere, Mossieman,” sê Geronkie verwonderd, terwyl hulle so onder die groen wilgebome sit en alles gade slaan. “Daar is Bobbie Bobbejaan, Spinne Spinnekop, die Magtige Mier, Hannibal die Hoenderhaan, Ollie Olifant, Mys die Muis… te veel om op te noem.  Kyk net al die diere wat kom water drink, te mooi vir woorde.”

Net toe sien Geronkie ʼn klein blou diertjie naby die water, met vier kort bene en ʼn lang stert wat van links na regs op en af swaai. Die klein blou diertjie het ʼn lààng tong, wat soos ʼn hoender se wensbeentjie lyk en elke nou en dan vinnig by sy bek uitspring. Angstig tik Geronkie vir Mossieman met sy wysvinger op sy verepoot. “Kyk daardie snaakse blou krokodilletjie, Mossieman!  Kyk hoe groot is hy van kleingeit!  Kyk hoe lank is sy stert!”

Mossieman sit rustig op die wal, sy linkertoon in die rivierwater om die temperatuur te meet. Hy loer so met sy een oog na die vreemde blou diertjie met sy kort ore en lang stert.

“Dit is nie ʼn groot krokodil nie, Geronkie, dit is ʼn likkewaan,” sê Mossieman alwetend. “of ‘n salamander. Krokodille is reptiele met horingskubbe wat ander diere met hulle sterte slaan. Daardie outjie is ʼn blou-groen likkewaan. Hy is een van die grootste en kwaaiste diere in die hele diereryk en sy tong lyk net soos ʼn swart slang met twee koppe. Mens sukkel nie met krokodille of likkewane nie, hulle kan jou byt!”

“Gelukkig is ek ʼn dier en nie ʼn mens nie,” stotter Geronkie verbouereerd. Hy hou nie daarvan as ander diere en mense hom byt nie.

Mossieman en Geronkie die Donkie kyk bangerig hoe die likkewaantjie by hulle verbywaggel. Sy vier kort bene trap-trap op die rivier se wal en hy gaan sit kiertsrgop langs sy hurke. Toe tuit hy sy snoet om water uit die Sandrivier te slurp. Die likkewaan se stertjie is só lank dat hulle nie sy einde kan sien nie, en hy is vol groen en blou kubbe.

“Geronkie,” sê Mossieman skelmpies, “ek het gehoor dat daar nog ʼn dier in die Sandrivier is wat kwaaier en meer skrikwekkend is as ʼn blou likkewaantjie. Dit is ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil!”

“ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil! Agge-néé man, Mossieman, daar is mos nie so ʼn ding nie. Waar kom jy aan so ʼn vreemde naam?”

“Dit is waar, Geronkie! Daardie Olikrokkenosterbobbefantelikedil het al baie mense gevang wat in die Sandrivier rondswem! Veral mense wat nie hul swembrille of swembroeke dra nie. Hy het hulle aan hulle linkerbene beetgekry en in die water ingetrek. Dan eet hy hulle op!”

“Hoe eet hy hulle op?” vra Geronkie agterdogtig. Hy hou nie van die gedagte dat ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil sy been opeët nie. Of nog erger, aan hom knaag nie.

Mossieman dink so bietjie. “Hy eet jou stukkie vir stukkie op, amper soos jy braaivleis eet. In ligamente… ek bedoel komponente. Of nee… segmente.”

“Stukkie vir stukkie?”

“Ja Geronkie, met sout en peper om jou beter te laat smaak. Jy sien, die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is daardie groen likkewaan wat ons gesien, het, se oupa.”

“Sy oupa?”

“Ja, en sy ouma was ʼn piranha.”

“ʼn Piranha!” Geronkie die Donkie loer bangerig om hom rond en haal sy een toon versigtig uit die water.  Hy wil nie hê dat ʼn piranha sy toon afbyt nie, want dan kan hy nooit weer sy oranje plakkies dra nie.

“Ja, hier is nogal baie Olikrokkenosterbobbefantelikedille in die Vrystaat. Mens moet net mooi kyk, dan sien jy hulle net so onder die water se oppervlakte.”

“Nou is ek sommer baie bang,” kerm Geronkie benoud en haal sy ander toon ook uit die water uit. Geronkie hou van sy tone, hy wil nie juis hê dat die Olikrokkenosterbobbefantelikedil een van hulle moet eet nie.

“Mossieman?” vra Geronkie die Donkie versigtig, “dink jy ons moet die Oliekrokkenosterbobbefantelikedil probeer vang?”

“Vang? Vang? Hoe dink jy moet ons so ʼn snaakse ding vang? Waarom wil jy hom vang? Hy gaan ons mos opeët, Geronkie!”

“Kom ons kry ‘n boer om ʼn plan te maak,” laat Geronkie onnutsig van hom hoor, en hy loer versigtig oor sy skouer na die magtige Sandrivier se kant toe. Geronkie was nog altyd stouter as wat hy bang is.

“Ek het ʼn plan,” sê Mossieman geheimsinnig. “Ek dink ek weet hoe om hom te vang.”

“Ek weet nou nie meer so mooi nie, sê nou net hy wikkel hom los en eet ons op?”

“Kom Geronkie, wees dapper, volg my,” sê Mossieman hulle stap af water toe waar die Olikrokkenosterbobbefantelikedil, stert in die lug, al in die rondte swem. Hy loer met sy skraal geel ogies na Mossieman en Geronkie en wonder hoe hulle sal proe. Dit is nou as hy hulle kan vang en opeët.

“Olikrokkenosterbobbefantelikedil!” roep Mossieman die gediertetjie nader. “Is jy honger?” Geronkie die Donkie is só bang dat sy broek bewe. Hy kruip verskrik agter Mossieman se broekspype weg.

“Ja,” knik Olikrokkenosterbobbefantelikedil met sy blou kop en maak sy kake wawyd oop om te wys hoe honger hy is. Al die diere in die Vrystaat begin op die wal agter Mossieman saamdrom om sy skerp tande en kleintongetjie agter in sy keel te sien.

“Ja, ek is baie honger,” grom die Olikrokkenosterbobbefantelikedil gulsig.Hy kyk so om hom rond om iets toe soek om te byt.

“Het jy al ooit daardie lekker vet Blinkvis gesien wat die hele tyd agter jou aanswem? Hy lyk net soos jou stert! Net blinker en vetter, en hy smaak sò lekker. Dit is nou as jy hom kan vang. Sien jy kans?”

“Lyk die Blinkvis Soos my stert?” vra die Olikrokkenosterbobbefantelikedil nuuskierig. Hy rek sy nek om te kyk of hy iets agter hom sien, iets wat net soos sy stert lyk en net so vinnig soos hy kan swem.

“Ja, net soos jou stert! As jy vinng omswaai, dan behoort jy daardie lekker Blinkvis met een groot hap te vang!”

“Rèrig!” Olikrokkenosterbobbefantelikedil swaai sy kop vinnig na sy stert se kant toe en maak sy bek wawyd oop vir ʼn paar oefenhappe. Sy kake en sy tande klap kliphard op mekaar soos wat hy oefen om te byt.

“Ek sal vir jou skree as jy moet hap, Olikrokkenosterbobbefantelikedil! Onthou, as jy eers daai lekker vet blinkvis in jou kake het, moet jy nooit weer los nie! Akkoord! Jy moet vasbyt!”

Mossieman en Geronkie die Donkie gaan sit versigtig op die wal. Net toe die Olikrokkenosterbobbefantelikedil by hulle verby swem, skree hulle: “Daar’s hy! Olikrokkenosterbobbefantelikedil! Daar’s hy, reg agter jou!  Byt hom! Byt hom!”

Olikrokkenosterbobbefantelikedil sien die lekker vet blinkvis hier kort agter hom en hy maak sy kake wawyd oop en …. HY BYT! Sy kake klap soos ʼn slagyster toe en hy hap die blinkvis amper middeldeur!

“Daar’s hy, Krokkie! Dit is reg!” skree Mossieman en Geronkie die Donkie uitgelate vir Olikrokkenosterbobbefantelikedil wat sy eie stert byt. Hy byt met mening vas en knaag so hard as wat hy kan.

“Moet nie dat hy loskom nie! Jy het hom! Byt hom! skree hulle. Moenie laat los nie!”

Olikrokkenosterbobbefantelikedil byt sy eie stert vir al wat hy werd is. Hy klem sy kake en hy swem in die rondte om te keer dat die lekker vet Blinkvis wegkom. ‘Ek sal hom later eet,’ dink hy en byt sy tande dieper in die vis se lyf. Dit pyn so bietjie, maar die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is vasberade om die lekker blinkvis op te verober.

“Sleep hom uit op die wal!” skree Mossieman en Geronkie die Donkie en hulle skaterlag dat die Sandrivier se biesies bewe. Olikrokkenosterbobbefantelikedil het homself aan die stert beet en hy spook verbete om sy stert by die wal uit die sleep. Hy wawiel-draai al in die rondte soos wat hy byt en trek.

“Dit lyk of die blinkvis wil wegkom!” Mossieman en Geronkie lag te lekker terwyl hulle wegstap. “Moet nie laat los nie, Krokkie! Byt vas!” skree hulle vir oulaas oor hul skouers.

Die Olikrokkenosterbobbefantelikedil is vasberade en baie honger en hy los nie sy eie stert nie. Hy byt al hoe harder en spartel en hy slaan bollemakiesie uit die rivier uit, net soos ʼn wawiel. Teen die heuwel af en daar trek hy, sy stert stewig in sy kake vas. Die  Olikrokkenosterbobbefantelikedil slaan kop-oor-stert, kop-oor-stert en hy rol en hy rol in die pad af, totdat Mossieman en Geronkie later net ʼn stofwolkie in die verte sien verdwyn.

Van daardie dag af het niemand in die hele Vrystaat ooit weer ʼn Olikrokkenosterbobbefantelikedil gesien nie. Maar almal vertel vandag nog die storie van die stofwolkie wat soos ‘n ossewa se wieil kon rol…

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started