Die Visse leer Swem in die magtige Sandrivier

In die jaar net nà die Boere-oorlog was dit baie droog in die Vrystaat. Omdat die Vrystaat die mooiste provinsie in Suid-Afrika is, loop die plaasdamme damme gewoonlik vol en die boere se lande toe onder die mielies. Maar, net nà die Boere-oorlog was daar nie juis baie water oor nie omdat die donkies baie dors was en meester van die water opgedrink het. Die groot droogte en leë damme sonder water het dit baie moeilik vir die vissies in die Vrystaat gemaak om te leer swem en waterpolo speel. Die vissies het ook gesukkel met onderwaterhokkie, waterbalet en lewensredding – tot dat die Vrystaat se Oumas en Oupas ‘n plan beraam het.

“Dit was daardie jare ʼn skande dat die klein vissies so gesukkel het om te swem,” (vertel Mossieman). “Die Boere moes iets doen, want baie van die visse wat nie kon swem nie, het behoorlik verdrink. Veral die jong vissies het gesukkel om kop bo water te hou.”

“Wat het die Boere toe gedoen, Mossieman?” vra Geronkie nuuskierig, terwyl hy so ʼn paar vlinderslag-bewegings met sy voorpote maak. “Het die boere gebid vir reën?”

“Ja, en die Here het reën gestuur, maar nie te baie nie. Daar was net genoeg water sodat die mielies en die koring op die lande kon groei. En sodat die mense en donkies die water kon drink.”

“Wat het die mense toe gedoen?” vra Geronkie grootoog, “ek bedoel nou om die klein vissies te help om te swem?”

“Daardie jare was die water nie baie diep nie, net kniediep. Die jong vissies moes maar in ‘n ry op die wal staan en daar leer swem. Hulle moes leer swem, anders vang die visvangers en die hengelaars hulle. Daardie jare het die mense wat visvang baie meer visse gevang as die mense wat nie visvang nie.”

“Wie het hulle leer swem?” verneem Geronkie verwonderd.

“Die ouer visse.”

“En wie het die ouer visse leer swem?”

Mossieman dink so ʼn bietjie en krap sy kop met sy verepoot. “Oumas en oupas.”

“Ek weet darem nie so mooi nie, Mossieman,” sê Geronkie wantrouig. “‘Is jy seker? Oumas wat swem?”

Mossieman dink so ʼn bietjie en tuur die verte in, om te dink waar sy hulp vandaan gaan kom om die storie verder te vertel.

“Die ouma en oupa visse het ʼn swemskool begin.”

“Maar, Mossieman, as die ouma en oupa visse nie eers self mooi kon swem nie, hoe het hulle geweet om die jongetjies te leer?”

“Die ouma en oupa visse het die jong vissies daar op die wal in die swemskool leer swem. Sonder water. Daar was nie eintlik baie water in die Vrystaat beskikbaar nie, en hulle moes bietjie improviseer.”

“Im… Um… Impro… Improviseer? probeer Geronkie die tongknoper op sy tong.

“Ja, partykeer moes hulle water vir die swembadd in mandjies aandra.”

“Maar mandjies lek mos,” Mossieman. “Jy jok nou lekker!”

“Nee, dit was groot mandjies, Geronkie. Net die helfte van die water het uigeloop. En dit was nie die hele mandjie wat gelek het nie, net die gaatjies.”

“So, die jong vissies het swemlesse gekry?” vra Geronkie agterdogtig en hy maak weer so ʼn paar denkbeeldige rugslagbewegings met sy voorpote.

“Ja,” vertel Mossieman ongestoord verder, “die jong vissies het elke dag swem geoefen dat die stof so staan.”

“En toe hulle klaar geleer het om te swem?”

“Toe hou hulle ʼn groot kompetisie, ʼn swemgala, daar op die wal. Die jong vissies wou vir al die ouer visse wys wat hulle by die swemskool geleer het. Hulle wou so ʼn bietjie afwys. Jy weet, voorbarig wees.”

“Wat het gebeur, Mossieman?”

“Wel, al die jong vissies het in ʼn ry op die wal gestaan, elkeen met sy swembril op. Party van die jong vissies moes snorkels dra, want hulle kon nie so goed soos die ander visse sien of swem nie.”

“Toe staan al die vissies op die wal met hulle swembrille en snorkels op?”

Geronkie loer onderlangs na Mossieman, nie seker of hy hièrdie storie moet glo nie.  Mossieman het al baie liegstories vertel, maar hierdie een het amper geklink of hy waar kan wees.

“Ja,” antwoord Mossieman besadig, “die jong vissies was baie entoesiasties om aan die gala deel te neem, omdat hulle medaljes en trofees kon wen.”

“Mapstieks, Mossieman! Wat gebeur toe?”

“Wel, toe klap die wegspringskoot! Al die vissies op die wal het begin swem vir al wat hulle werd is. Met verbysterend vaart en gepaste bygaande gebare, Geronkie! Hulle het so woes geswem dat daar ʼn stofwolk ontstaan het. Die toeskouers en die boere het die stofwolk so bekyk en gedink hulle kry reen.”

“En toe?”

“Die vissies het uitgehaal en gewys wat hulle kon doen.”

“En toe?”

“Wel, nadat al die stof gaan lê het, het al die visse hande geklap en gejuig. Daar was groot applous vir die jong swemmers van die toeskouers se kant af. Daar was van die jong vissies wat goue medaljes gekry het, so mooi het hulle amper geswem. Een vissie het selfs ʼn wisseltrofee gekry, en ‘n stewige Vrystaatse handdruk.”

“Mossieman, nou jok jy darem dat dit klap!”

“Stroesnjannies,” sê Mossieman besadig, en hy lag guitig in sy mou. “Daardie jong vissies het so mooi geswem daar op die wal, dink net hoe vinnig gaan hulle swem as hulle eendag nat word.”

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started