Hardloop, Oom

 Diep in die apartheidjare (ek vermoed so 1978), draf ons die Klerksdorp-marathon om effens vir Comrades voor te berei. Wes-Transvaal se industriële metropool is om mee te begin nie die ideale plek om marathonne te hardloop nie – die hele gedagte stem my vandag nog tot mismoedigheid en wanhoop. So met die jare vervaag jou herinneringe van padwedlope en marathonne – selfs Comrades se kronkelroetes raak gaandeweg net hersenskimme. Totdat jy naderhand net die koppie groentesop en sny bruinbrood aan die einde onthou, en die snaakse dinge wat op die wedlope gebeur het.

Klerksdorp, Stilfontein en Orkney se industriële gebied vloei soomloos aan die Oostekant van Klerksdorp inmekaar. Grys fabriek nà gryse fabriek, met hier en daar ʼn ‘scrapyard’ vir estetiese afwisseling, en ‘n saagmeule vir ʼn bietjie sagtheid op die oog. So tussen al Hartbeestfontein en Vaal Reefs se mynhope deur. Die voorwiel van my resiesfiets het op ʼn keer in een van daardie treinspore tussen die mynhope vasgehak, en ek het hard met die teerpad kennis gemaak. Een van my mede-deelnemers aan die Wes-Transvaalse Driekampkampioenskappe is holderstebolder bo-oor my; Klerksdorp se hospitaal het nogal gesukkel om een van my remme uit sy bobeen te verwyder.

Onthou julle die pragtige lugfotos van Orkney, en die prettige temalied van die gewilde “Ouboet-worsie-televisiereeks Orkney Snork Nie? Wel, dit lyk glad nie so in Orkney nie. Eintlik presies die teenoorgestelde. Daar bly ook nie baie mense in Klerksdorp en Orkney nie. Oftewel nie mense wat voordag op ʼn Saterdagoggend na ʼn marathon deur die industriële gebied loop kyk nie. Die son is nog nie mooi op nie, dit is koud, en dit vat hare op jou tande om ‘n goeie toeskouer te wees in die Wes-Transvaal.

Atletiek en padwedlope was in die apartheidsjare een van die eerste sportsoorte wat “geïntegreer” het, om nou die Departement van Bantoe-administrasie se korrekte nie-rassige rassistiese beskrywing te gebruik. Met ander woorde, almal wat lus het, kon hôl vir die vale en die eerste ou wat by die wenpaal aankom, kry die prysgeld. Of jy nou Wit, Swart, Grieks, Mohammedaan, Keniaan of stoere Calvinistiese boerseun met ʼn Skotse ouma is. Almal word oor dieselfde kam geskeer. Vryheid, gelykheid en broederskap.

Niemand het egter hierdie kulturele en volkekundige nuánces aan al die toeskouers by die Klerksdorp-marathon verduidelik nie. Ook nie aan ʼn klein laaitie (ek skat hom so nege of tien jaar oud), wat baie moeite gedoen het om homself daardie oggend as toeskouer langs die roete te vestig. Hy was ook die enigste toeskouer, want die industriële gebied is maar ʼn mistroostige plek om jou kampstoel, transistor radio en sambreel op te slaan. Om nou luilekkter te kyk hoe die hardlopers verbydraf en aftjop. En miskien, as jy nou so daarna voel, kieskeuring applous uit te deel vir daardie atlete wat na jou mening mooi hardloop en goed presteer.

Enige ou wat al ‘n marathon gehardloop het, weet dat dinge hier van so 35 kilometer af harig begin raak. Hoe langer die roete aanhou, en hoe harder die son jou kop brand, hoe korter word jou humorsin. As jy nog boonop vanaf twaalf kilometer ʼn verdomde blasie op die verste punt van jou linker-kleintoontjie opgetel het, is jou geduld korter as ʼn Guy Fawkes ‘cracker’ se lont. Hare op jou tande is nodig. Daai teerpad in Klerksdorp se industriële area brand naderhand jou voetsole soos ʼn Yskor-ketelmaker se blaasvlam. Jou kleintoontjie se blasie word jou grootste vyand en die Vaselien wat jy daardie oggend in jou gatsak ingepak het, is lankal op. Maar klaarmaak moet jy, want aan die einde wag daar ʼn R2 blikmedalje wat die organiseerders uit Klerkdorpse bottelproppe laat saamsmelt het. Sommer daar by die plaaslike-gemeenskap se smeltery langs die pad, waar hulle gesteelde tuinmeubels in nuwe Toyota taxies opskep. En jy kry ʼn warm Coke, wat jou so naar maak dat jy vir die volgende drie dae nie wil eet of drink nie.

Die sproetgesig-laaitie het my op ʼn afstand sien aankom. Niks het sy skrefiesoë ontgaan nie, nie eers die pienk Wicks-kougom wat hy opblaas en laat pop, net om die gemors weer met groot genot van sy gesig af te lek. Teen hierdie tyd het hy hom bo-op ʼn muurtjie tuisgemaak om elke verbygaande hardloper lakonies te bestudeer, sy bene swaaiend hier onder hom, pienk kougom in sy kies. Al klank wat jy daardie oggend kon hoor, was my têkkies wat op die teerpad klappeklap, sonbesies wat eentoning in die verte langs die Vaalrivier dreunsing, en die laaitie se pienk kougom wat so nou en dan pop, en weer pop.

As hierdie laaitie sy mond oopmaak, dink ek so by myselwers toe ek swoegend verbydraf, draai ek sy nek om. Kindermishandeling en kindermoord of te not. Of sy ma oor hom gaan huil, of nie. Net toe ek so halflyf by hom verby is, hoor ek hier agter my die laaitie maak keelskoon en sy empatiese woorde uit die bloute wat my altyd sal bybly: “Hardloop Oom, jy is die vierde Witte.”

Ek lag myself skoon van balans af, so dat ek naderhand van die pad moet aftrek om verder te lag. Toe ek half bedaar en omkyk, sien ek net die outjie se groot oë wat uidrukkingloos na my staar. Hy het duidelik gedink dat die oom een of ander histeriese aanval gekry het, en besig is om in sy watersakkie te verstik. Intussen het die vyfde en die sesde Witte my begin inhaal, en wou hulle besorg weet of alles darem in orde is. “Het jy die muur geslaan?” wou een Witte van PUK by my weet. Die ander Witte het bekommerd begin rondkyk vir lafenis (vir hom), en‘n ambulans (vir my).

Ons klompie Wittes het toe maar saam-saam aangedraf na die eindpunt toe, langs Klerksdorp se Stadsaal. En hulle het vir ons almal wragtig warm Coke en ʼn bottelprop medalje gegee. As ek reg onthou het ek heel skaflik in die 27ste posisie geëindig. Ek kan nie mooi onthou in watter possisies die ander Wittes geïndig het nie.

 Nevermaaind die twintig Swartes voor my. Hulle het daardie warm Saterdagoggend in 1978 die aandag van laaitie op die muurtjie van die Klerksdorp-marathon, heeltemal ontglip.

* 

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started