ʼn Vrystaatdonkie is ʼn wonderlike ding!

“Waar was jy vanoggend, Geronkie?” raas Mossieman ongeduldig. “Ek soek al die hele oggend na jou.”

“Jammer, Mossieman, ek was by my skelm prokureur in Virginia, daar langs die magtige Sandrivier waar die likkewane bly en wei. Die riviertjie se sonstrale was juis vanoggend vroeg so mooi deur die dou en die ryp.”

“Wat het jy en jou skelm prokureur bespreek, Geronkie? Jou manewales, kaskenades en koeterwaals in belang van jou mede-Vrystaters? Of jou eie skelmstreke?

“Nee-wat, Mossieman, ek voel maar net daar word rassediskriminasie en apartheid teen ons donkies toegepas, toe besluit ek om iets aan die saak te doen. Toe gaan sien ek maar my prokureur op die dorp, agter sy groot lessenaar, langs sy duur motor. Gewoonlik werk hy net met veediefstal deur sy eie familie, maar hy het ingestem om my saak te neem. Ek gaan die korrupsieregering dagvaar.”

“Wat het dit met jou prokureur te doen, Geronkie? Het jy huismoles?” Aitsa, Geronkie! Weet jy mooi wat dagvaar beteken? En vir rassediskrimaninasie nogal. Wie diskrimineer teen wie?” verneem Mossieman guitig.

“Perde, Mossieman, perde. Die perde en muile diskrimineer teen ons nederige Vrystaatse donkies, met behulp van die regering. Mens kan nooit muile vertrou nie.”

“Foeitog, Geronkie, my ou maat. Kom sit hier op die klip, langs my onder die groot ou populierboom. Dan drink ons ʼn koppie regte-egte boeretroos en ons eet vars boerbeskuit. Dan vertel jy my alles. Stort jou hartjie uit, Geronkie, moet niks uitlaat nie. En wees eerlik.”

“Wel, Mossieman,” vertel Geronkie met ʼn emaljebekertjie boeretroos in sy hoef, “dit het alles begin by die HAT.”

“Die HAT!” kwetter Mossieman verbaas. “Is dit wat jy lees? Ek dog jy lees net die Kerkbode en die Volksblad?”

“Nee, dit is die HAT wat die probleem is, Mossieman. Alles wat in die Afrikaanse taal belangrik is, staan in die HAT. Die HAT is soos die Huisgenoot, net vir mense wat kan lees en nie hou van fotos van Amerikaanse aktrisetjies nie.”

“Waarvoor staan HAT, Geronkie? Waarom is jy so kwaad vir hulle?”

“Handwerkboek vir die Afrikaanse Taal. Daar is ʼn grote vir mense en ʼn kleintjie vir die diere van die Vrystaat. Soos ekke. Dit is hulle wat teen ons donkies diskrimineer. Ons voel afgeskeep, soos agtergeblewenes op die Hollandse werf.”

“Ai, Geronkie,” teug Mossieman aan sy boeretroos. “Hoe dan so?”

“Alles wat in die HAT staan, gaan oor perde, Mossieman! Niks word van ons beskeie donkies gesê nie. Hulle ignoreer ons en hulle diskrimineer teen ons! Die HAT sê hy skop soos ʼn muil, maar ons donkies kan ook skop. Maar hulle noem nie eers dat ons hard kan skop nie.”

“Maar dit is darem nie rassediskriminasie nie, Geronkie,” lag Mossieman terwyl hy aan sy boerbeskuit knibbel. “En julle bene is nogal krom om goed te kan skop.”

“Dit is! Het Jesus nie op een van my voorvaders deur die Gouehek van die Ou Stad van Jerusalem gery nie? Die HAT noem dit nie eers nie, hy praat net van trou is nie perde koop nie. Hulle sê niks dat donkies ook trou en perde koop nie. Ons het mos ook geld. Van ons Vrystaatse donkies is baie welgesteld. Ons kan ook perde koop!”

“Ek weet darem nie, Geronkie, ek dink julle donkies word wel in die HAT genoem. Hulle sê dat julle ʼn donkie se been afpraat.”

“Wat beteken dit,” vra Geronkie vies. “Ek het dit nie vir my prokureur genoem nie. Wat beteken ʼn donkie se been afpraat?”

“Dit beteken julle donkies praat aanhoudend, sonder ophou, meesal babbeltaal en nonsens. Soos politici en die president van die land. Amper soos om ʼn perd se stert af te praat. Of om ‘n dooie jakkals aan’t draf te praat.”

“Nee-wat, Mossieman, daarmee stem ek nie saam nie. Ons donkies stamp nie ons koppe twee maal teen dieselfde klip nie. En ons trap nie met ons voete in ons eie broeksakke nie. Dit is waarom ons altyd preek dat twee koppe beter as een is.”

“Maar wat staan nog in die HAT? Waarom is jy so knorrig oor hulle?”

“Hulle sê ons is geweldadig, dat ons brandstigting pleeg en plunder en wettelose diere is. Hulle sê van ʼn donkie kan jy ʼn skop verwag, maar dan komplimenteer hulle die perde. Die HAT noem hulle sierperde, wat met hoogdrawwende bene pronk wanneer hulle aan landbouskoue deelneem en so aan. En dat jy nie ʼn gegewe perd in die bek moet kyk nie. Dit beteken die mense in die Vrystaat gee vir mekaar perde, nie donkies nie. Ek het in my lewe nog nooit in ʼn gegewe perd se bek gekyk nie.”

“Regtig, Geronkie? Foeitog man. Ek begin nou insien waarom jy dink donkies trek aan die kort kant van die stok, dat julle vir die verkeerde boom blaf, dat julle langs die pot mis sit.”

“Probeer jy nou snaaks wees, Mossieman? ” vra Geronkie vies. “Ons donkies blaf nie, man, ons runnik. En as ons runnik, voel ons pure perd!”

“Wat sê jou prokureur in Virginia, Geronkie? Gaan hy die regering dagvaar?”

“Nee-wat, Mossieman, om een of ander rede wil hy nie. Hy sê ek wil die regering ondergrawe, soos ʼn Trojaanse perd.

“Toemaar, toemaar,” troos Mossieman en sit sy poot beskermend om Geronkie se skouer. “Ek dink nie julle donkies is so sleg nie, Geronkie. Onthou altyd wat die Voortrekkers ons geleer het.”

‘Die Voortrekkers?” pink Geronkie ʼn traan weg. “Wat het hulle ons geleer, Mossieman?”

“Hulle was wyse manne en vrouens, Geronkie, goeie voorouers. Hulle het altyd gesê; al dra ʼn aap ʼn goue ring, bly ʼn Vrystaat-donkie ʼn wonderlike ding.”

Geronkie peins so ‘n bietjie oor Mossieman se wyse woorde. “Dankie Mossieman, nou voel ek baie beter. Ek voel sommer pure perd!”

*

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started